Nitro-S is ’n homogene korrelbemestingsproduk wat stikstof en swawel in elke korrel bevat. Die 7:1 verhouding tussen stikstof en swawel maak die produk ideaal om te gebruik as kopbemesting en/of om in mengsels te gebruik. Verder bevorder swawel die stikstofverbruiksdoeltreffendheid, wat moontlik tot meer effektiewe voedingstofopname en verhoogte opbrengste kan lei. Nitro-S is ’n hoë stikstof alternatief teenoor ’n produk soos ammoniumsulfaat en ’n enkelkorrel produk vervanging vir 1:0:0(40).
11.6% K, 3.6% Mg, 12.2% Ca, 19.2% S
NitroPoly-S is ’n natuurlik-ontginde produk wat nie enige chemiese of temperatuur-behandeling ondergaan nie. Die produk is afkomstig van die mineraal polihaliet, wat bestaan uit vier noodsaaklike elemente vir plantontwikkeling. NitroPoly-S het die unieke eienskap dat al vier die elemente volledig oplosbaar is – en oor ‘n verlengde tydperk vrygestel word vir opname deur die wortels. Voedingstofverliese, as gevolg van uitloging, word ook beperk te danke aan die tempo waarteen die voedingstowwe in die grondoplossing vrygestel word. Kalsium word gelykmatig oor ’n lang periode vrygestel, wat verseker dat daar opneembare kalsium beskikbaar is wanneer die plant dit benodig.
Wanneer die vrystelling van sulfaat met beide ammoniumsulfaat en gips vergelyk word, word vinnige oplosbaarheid by die ammoniumsulfaat waargeneem. Die gips kom egter baie stadig, oor ‘n langer tydperk, in oplossing. ‘n Ander voordeel wat die gebruik van NitroPoly-S inhou is die feit dat die produk ‘n lae soutindeks en ‘n neutrale pH het. NitroPoly-S word bemark as ‘n organiese bemestingsproduk. Die korrelproduk (2 tot 4 mm in deursnee) het uitstekende verspreidingseienskappe. Hierdie is ‘n ideale bemestingsbron om saam met suiwer stikstof toe te dien, maar dit kan ook onverdun of in mengsels gebruik word.
Ureum is reeds vir baie dekades die voorkeur-stikstofbron wêreldwyd. Wanneer die kostes daarvan met ander N bronne vergelyk word, is ureum (46% N) die goedkoper opsie per kilogram stikstof in die produk. Dit is alombekend dat heelwat van die ureum wat op die grond toegedien word, verlore kan gaan a.g.v. die vorming van ammoniakgas en sodoende bydra tot die opbou van kweekhuisgasse. Hierdie vervlugtigingsrisiko word tradisioneel deur praktyke bestuur, soos byvoorbeeld slegs ureum toe te dien as reën verwag word of om uitgestrooide ureum met bewerkingsaksies op te volg sodat die ureum deur ‘n lagie grond bedek kan word.
Deesdae kan ureum chemies behandel word met ’n urease inhibeerder (NBTP) wat help om vervlugtiging drasties te verminder sonder dat dit dadelik ingewas of ingewerk hoef te word. Die NBTP inhibeer die urease ensiem (wat die proses aan die gang sit) wanneer ureumkorrels op die oppervlak oplos. Dit help om die omskakeling na ammoniak en ammonium in die grond te bestuur en vervlugtiging te verminder. Die Ureum LV-produk word ná ongeveer twee weke afgebreek na gewone organiese komponente en die urease keer terug na normaal. Die doel van hierdie behandeling is om meer toegediende stikstof in die grond te kry sonder dat dit dadelik ingewas of ingewerk hoef te word.
Besigheidsure
Ma - Vr: 08:00 - 17:00
Sa - So: Gesluit
Kontak Ons